Woorde uit die kombuis – Diensbaarheid

Die lydenstyd het begin en die laaste paar dae draai die herinneringe van die kruis, die spykers en die doringkroon weer vlak in elke dissipel se gemoed rond, maar dis veral Jesus se voorbeeld van diensbaarheid wat deesdae so hard met my praat. Ek sien weer opnuut die draaitjie daarvan regdeur Sy lewe en dood gevleg.
Daardie spykers het Jesus se verweerde hande en voete vasgeslaan aan ‘n kruis, ‘n kruis wat Hy nie verdien het nie, om ‘n dood te sterf wat nie eers Syne was nie. Maar Jesus het mos self gesê dat daar nie ‘n groter liefde as juis dit is nie – dat iemand sy lewe opoffer vir ‘n ander.
En deur dit alles het Sy liefdevolle oë pretensie verbrokkel en die waarheid gesif, terwyl sy droë mond prewel in ‘n versoek tot God om ons nie hierdie sonde toe te reken nie, want ons weet nie wat ons doen nie.
Dan was daar die spottende doringkroon. Eintlik het daardie kroon elke ander idee van koningskap weggevreet en verteer, sodat ons kan neerbuig voor die Een Koning wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien.

Ek lees iewers hierdie woorde: “We surrender to win, we give away to keep, we suffer to get well, we die to live.” En ek dink net weer tevrede – in God se Koninkryk werk alles andersom.

Suutjies stoei daar ‘n dringendheid in my los om self te gaan dien…

-gerda-

Woorde uit die kombuis – Laat God God wees

‘n Spesiale vriendin bring die ander dag vir my ‘n t-hemp. Dis die soort t-hemp wat ek wil aantrek en aan hou. Vir ewig. Nie omdat die t-hemp so gemaklik is nie (dit ook), maar in ‘n desperate poging om die waarheid van die woorde op die t-hemp van buite iewers hier binne-in my te laat vassteek. Te laat een word met my. Ai, as ek net sal onthou om te onthou: “Ask God to do what only He can do, then get out of the way and let Him do it.”

Ek leer stadig, maar ek leer darem en die een ding wat ek besig is om te leer, is dat God baie keer ten spyte van ons werk en nie as gevolg van ons nie. Genadiglik so!

Daar is ‘n staaltjie wat beweer dat Muhammad “the greatest” Ali een keer geweier het om sy gordel vas te maak op ‘n vliegtuig, selfs na verskeie versoeke. Toe die lugwaardin weer vra dat hy sy gordel vasmaak het hy blykbaar iets gesê soos “Superman don’t need no seat belt.” waarop sy toe antwoord: “Superman don’t need no airplane.”

Nou ja, ek is bevrees meeste van ons probeer een of ander tyd God speel. Ons bevind onsself in daardie gevaarlike stadium waar ons doodseker is oor ons eie vermoë. En in ‘n beswyming van false sekuriteit in onsself, pak ons dinge aan en sleep ons bagasie saam wat nie ons sin was om mee te begin nie. Net om later moeg en moedeloos bakhand te bedel vir krag van bo. Ek is mal oor die gedeelte in die War room waar Clara vir Elizabeth sê: “Let God do the heavy lifting. Your job is to seek Him and trust Him.”

Ek lees in die week hierdie woorde raak: “Hoe ontvang ’n mens die reën? Deur bloot te kyk hoe dit val, deur in die reën te gaan staan en deur vir God dankie te sê dat Hy die sluise van die hemel oopgemaak en die reën gestuur het, die reën wat Hy weet ons so nodig het en nie vir onsself kan kry nie, en wat Hy so getrou, so gereeld en so genadiglik vir ons gee.” Is dit nie waar nie?

Ons leef in ‘n tyd waar trots amper aangemoedig en beloon word. Terwyl Jesus se oeroue boodskap van nederigheid lank vergete is. Jesus het gesê dat elkeen wat homself verneder opgehef sal word.
Ek dink nie nederigheid het enigsins te make met ‘n poging om onsself of ander te oortuig ons is onbevoeg of waardeloos nie. As God ons waardeloos wou maak, sou Hy. Ek dink nederigheid is eerder ‘n tipe onderdanigheid. ‘n Gewillige, gesonde opoffering van ons selfgesentreerde uitkyk op die lewe.

Otberg vat dit so mooi vas as hy skryf: “We will know we have begun to make progress in humility when we find that we get so enabled by the Holy Spirit to live in the moment that we cease to be preoccupied with ourselves, one way or the other. When we are with others, we are truly with them, not wondering how they can be of benefit to us.”

As ons ooit die vermoë kan aanleer om nederig te wees, sal dit ‘n groot seën wees vir onsself en almal rondom ons. Eintlik is nederigheid die vryheid om op te hou voorgee ons is iets wat ons nie is nie. Om ons afhanklikheid van God te erken en ons nietigheid aan die lig van Sy Almag te besef. In Luther se woorde is nederigheid: “The decision to let God be God.”

Woorde uit die kombuis – Die regte pas

Ek is diè slegste back seat driver wat daar is! Daar, ek het dit erken! Mag ek darem ook net ter versagting sê dat alles in my lewe stadig gebeur. Wel, ten minste vandat ek wiele het vir bene. So wanneer my man rustig teen 80km/uur ry en ek vir hom skree om nie so te jaag nie…is dit seker te verstaande, of hoe? 80km/uur voel vir my soos 180km/uur!!

MAAR miskien is hierdie slakke-pas bestaan van my nie so ‘n slegte ding nie…dalk is dit ‘n bedekte seën. Hier in my wêreld waar gestremdheid my liggaam boei, vloei my gees vry en ontwaak my siel met woordelose boodskappe oor wie en wat ek regtig is.

Dit is mos Jesaja 30:15 wat vertel hoe ons krag in stilwees lê? Hoe ons tot rus moet kom in Hom. ‘n Baie slim man, Dallas Willard, het eenkeer gesê: “You must ruthlessly eliminate hurry from your life!”

Ek praat nie van besigwees nie, besigwees is goed, selfs nodig…ek praat van haastigheid, want dìt is ‘n ongesonde toestand van die hart.

Haastige mense hardloop altyd iewers heen en hier en nou is nooit so belangrik soos waarheen hulle oppad is nie. Hulle hardloop tot daar nie meer hardloop in hulle oor is nie. Lyk of hulle probeer opmaak vir verlore tyd, maar die een ding wat hulle begeer- GENOEG TYD – bly hulle ontwyk.

Miskien is haastigheid net ‘n rookskerm om die fluistering van ons siel te stil of die toestand van ons hart te ignoreer. As dit so is, vergiftig en bedrieg ons onsself. Erens in ‘n onbewaakte oomblik aanvaar ons ‘n oppervlakkige weergawe van ‘n bestaan. Ons LEEF nie regtig nie. G’n wonder Carl Jung het gesê: “Hurry is not of the devil; hurry is the devil.”

Jesus was self baie besig hier op aarde, maar Hy was nooit haastig nie. Hy het altyd tyd gehad vir mense. Tyd gehad om lief te hê en om te gee. Haastigheid is ‘n vyand van liefde, want liefde vat tyd.

Jesus het gereeld vir sy dissipels gesê: “Come away to a deserted place all by yourselves and rest a while.”
Dit klink vir my of Jesus ons aanmoedig: “Kom saam met My, daar’s ‘n plek waarheen ons kan gaan…Ek en jy. Ons kan praat totdat woorde opraak. Ek sal wonderlike misteries met jou deel. Geheime oopbreek en drome ontgin. Daar sal My wysheid en vreugde sag binne jou gaan lê.” Ek is bevrees as ons Jesus se uitnodiging wil aanvaar, sal ons moet asem skep. Ons sal ons plek in die vinnige baan moet opgee, want om Jesus te volg gebeur nie in ‘n rekord tyd nie. As mens iemand wil volg, kan jy tog in elk geval nie vinniger wil gaan as die een wat lei nie…

Mag die tydlose ritme van Jesus sò oor ons spoel dat ons onsself in Hom verloor.

Woorde uit die kombuis – My Pa

Ai my pa, ek was so bitter klein toe ek begin bid het vir n pa en as kind was die gewag lank. As ek nou so sit en terug dink besef ek die Liewe Heer het elke gebed verhoor en op Sy perfekte tyd het Hy vir my, my eie pa gestuur.

Pappa was alles waarvoor ek gebid het. Nee, Pappa was meer!! Vir 28 jaar was pappa vir my geleen. Hoe vinnig gaan 28 jaar verby? En nou is ons hier… Ek gaan nie groet nie, ek kan nie. Elke dag van hier af vorentoe gaan ek pappa se lewe en invloed vier. Tot ons mekaar weer sien. En pappa se invloed le wyd oor my lewe gestrooi. Tog ook diep binne my hart gebere. Verweef in soveel oomblikke saam. Daar was lag en trane, pyn en vreugde soos wat seisoene verander; pappa was altyd daar.

Ek koester die herinnering in die geure van basil & tamatie, gebraaide vark met appelsous. Pappa se lip-lekker potjies of sommer net pap & wors. Die reuk van gesnyde gras, die knetter van n harde hout vuur, n goeie botteltjie rooiwyn. Elke rugby game, krieket toets en golfbaan. Boeremusiek en pappa wat nostalgies praat oor dinge voor my tyd. En dan altyd die stories op die radio skuins voor drie. Soveel lang, goeie gesprekke propvol quotes en raad.

Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar soos ek ouer word proe ek ook die liefde in die kos en die suurstof in n vars gemaakte koppie koffie..

Dankie weeg so lig en voel so onvoldoende… Dankie in elk geval..vir soveel dinge. Vir pappa se voorbeeld en opoffering. Pappa se geselsies en ondersteuning. Al die lewenslesse. Vir pappa se liefde vir ons kinders en later die kleinkinders, maar veral vir pappa se onwrikbare liefde vir mamma. Pappa was real…n opregte mense – een sonder voorgee! Dit was n voorreg!

Ek sal onthou om so te leef dat ek tevrede kan wees met die een wat na my terug staar in die spieel. En dat pappa gese het… Meeste van die tyd is die lewe vol moeilike vrae, maar as ons eers die moeilike vrae gevra het, is die antwoorde gewoontlik maklik.

Ek gaan verlang, ek verlang al klaar. Ek soek pappa in oomblikke, spasies, gapings en krake. In die klein dingetjies wat net pappa sou verstaan.

Ek het pappa so lief!
Stuur groete daar bo.

Ps: ek sal nou maar hier en daar vir die WP cheer!

Woorde uit die kombuis – 23 Arundelstraat

Jou weggaan maak herinneringe in my los. Herinneringe wat hartseer verlange wil word. Hartseer en verlange waarmee mens nooit regtig kan klaar maak nie.

Ek huil oor jou en oor die ander voor jou ook, maar veral oor jou…en ouma.

Vir my is julle naby, al is julle seker eintlik ver. Dis n deel van my, so werklik soos gister – die reuk van vars brood en koekies, die kuier tafel met die HP sous in die groot kombuis. Ouma wat vroeg oggend neurie as die sonstrale deur my venster breek. En jy wat reeds buite saag en kap aan ons nuwe projek.
As ek terug dink besef ek in my volwassenheid dat daar baie dinge aangegaan het wat my kinder hart nie kon begryp. Julle moes ook seker bekommernisse van julle eie gehad het?

Maar in 23 Arundelstraat was ek gelukkig. Daar het elke probleem n oplossing gehad. Elke droom n goeie einde. Daar was liefde en tyd. Die Bybel en n kitaar. My ouma en oupa was daar.

-gerda-

Woorde uit die kombuis – Slakke-pas

Slakke-pas

 

in my slakke-pas bestaan

sien ek dinge raak

hoor ek mense harte praat

dra ek siele in my rond

 

agter dowwe oe le hoop

opgewekte gesigte verberg ook trane

soms is rykdom by die arm man

en die kind het waarheid beet

 

ek voel Jou in dit alles

sien Jou oral om my rond

genade suipel deur die krake

spoel oor my slakke-pas bestaan

 

–gerda–

Woorde uit die kombuis – vryheid

n Bekende sielkundige het gese wanneer ons gebore word is ons wereld klein, maar soos ons ouer word, word ons horison al hoe groter, want ons leer kruip, dan loop en later kar bestuur en die wereld le oop voor ons. Maar dan begin ons self perke op ons lewens plaas deur vrese en twyfel.

Dis seker so. Maar is dit al wat dit is? Is vryheid bloot n lewe sonder perke, want as dit so is, het ek n probleem. Ek en elke ander mens wat hulself in n situasie bevind waar omstandighede perke op hulle plaas. Beteken dit dan dat ons almal n gevangene is van ons omstandighede?

Ek sit die laaste vyf jaar van my lewe al in n rolstoel. Ek kan ook nie meer my hande en arms gebruik nie. 24 Uur van enige dag het ek hulp nodig met elementere dinge soos bad, aantrek en eet. Dinge wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar.

Hoe is dit dan moontlik dat ek nou vryer is as ooit? Hier in hierdie stoel met wiele met al my inkortings. Selfs vryer as die normale, onafhanklike vorige weergawe van my. Het vryheid hoegenaamd enige iets te make met die liggaam of omstandighede? Of dwaal vryheid ook, soos baie ander dinge, binne in ons rond. In ons harte. In ons koppe.

Ek glo ons kans op vryheid het gekom die dag toe ons vrye wil gekry het om te kan kies. Laat ek dit anders stel. Omdat ons keuses kan maak, kan ons vry wees.

Die tragedie is dat ons vry wil kom van alles en almal, terwyl ons werklik eintlik net moet vry kom van onsself. Ons moet so vinnig en ver weghardloop van ons ingebokste idee van n lewe as wat ons kan. Dit gaan oor meer as die hier en die nou. Ons moet ons eiland verruil vir n oopsee lewe, want die lewe na vryheid le buite ons. Ons is slawe van die goeters wat ons nodig het om gelukkig te wees. Slawe van die dinge wat ons moet doen vir aanvaarding. Van skuldgevoelens, minderwaardigheid en onvergewensgesindheid.

Vir my le ware vryheid in gee sonder om te kry. Luister sonder om te moet praat. Om n slag terug te staan sodat iemand anders ook kan kry. Om soms nee te kan se: vir ander en jouself. Die regte ding te doen al is dit moeilik. Om verkeerd te kan wees, jammer te kan se.

Miskien is vryheid juis perke? As jy vry is om te kies net wat jy wil en dan kies om die minste te wees. Ter wille van die groter prentjie, ter wille van liefde. As ek in n paar woorde die reinste vorm van vryheid kon opsom. Sou dit wees van n Man wat hang aan n stuk hout op n verlate heuwel erens buite die stadsmure. n Man met soveel mag, dat n blote fluistering van sy gebarste lippe n legioen engele kon oproep tot hulp. n Man wie se woorde eenmaal als in wording geroep het. Maar hierdie Man kies om stil te bly.

Liefde lei Hom na n kruisdood, maar daardie kruisdood koop ons vryheid.

Woorde uit die kombuis – die boom

Ek ken van pyn en ek weet wat dit is om te treur. Te smag na iets wat was. Ek praat van die soort huil wat jou binneste huil, lank nadat trane opdroog. Daardie laatnag wroeginge met jou Here, jou God. Wanneer die dag rus, maar jou siel net aanhou woed in jou.

Ek vergelyk daardie soort swaarkry met n boom in herfstyd wat winter ontmoet. Net gister was die boom in groeneprag en dan begin sy blare een vir een grond toe huil. Goud, oranje, bruin. Totdat hy daar staan en hy is kaal. Mens skryf hom af, maar onder die oppervlak is daar iets aan die gebeur. Sy wortels skiet al dieper en wyer, verder as tevore. Hy groei groot in sy nuwe identiteit.

Nadat Huisgenoot die ander dag hier weg is, moes ek gestroop en leeg staan en toekyk hoe iemand anders my storie skryf. Uit HULLE perspektief! Ek was weereens gekonfronteer met daardie “buite beheer” gevoel, van oorgee en laat gaan. Maar iets anderste was ook in my binneste aan die gebeur. Tevrede dankbaarheid het begin opborrel, want ek kon vir die eerste keer (soos wat ek my storie aan Huisgenoot vertel het) byna objektief en van buite na my hele reis kyk. Van begin tot hier waar ek nou is. En wat n reis is dit nie. Dit bly die moeite werd! Ek sien Hom in elke fase. Hy is waarlik die een wat na ons toe aangeloop kom, wat ons ontmoet waar ons is, op die water, langs die stofpad of in die woestyn. Hy self het my kom leer dat ek Hom kan vertrou. Hy het in my geglo toe daar van my niks oor was nie. Selfs toe ek Hom bitter seergemaak het, het Hy reeds gedroom oor wat my lewe kan wees.

Ons soek somers in ons winters en ons moenie, want elke seisoen dien n doel. Die een berei ons voor op die volgende. Dit is menslik om swaarkry negatief te beleef, maar die waarheid is dat swaarkry my meer kom leer het van myself en God as enige iets anders in hierdie lewe. Wanneer ons harte oop is vir Hom en ons dit toelaat, skep God altyd iets mooier en sterker uit swaarkry. Dit is soos daardie gesegde se: “What the caterpillar calls the end, the Master calls a butterfly” Sien, swaarkry vat jou na jou einde, maar as jy daar kom, besef jy: dit was die einde niet!!

Onlangs sien ek n skildery van n “worshiping tree” Die boom het lee takke, takke met bloeisels, takke met geel blare en dan weer ander takke met groen blare. Hierdie boom wat al die seisoene verteenwoordig buig laag tot op die grond al agter die water aan. Ek kan dit nie help nie, die skildery trek my in en praat diep tot in my siel, want die boom vra n vraag, hy vra: “Worship ons Hom in al ons seisoene?”