Woorde uit die kombuis – Laat God God wees

‘n Spesiale vriendin bring die ander dag vir my ‘n t-hemp. Dis die soort t-hemp wat ek wil aantrek en aan hou. Vir ewig. Nie omdat die t-hemp so gemaklik is nie (dit ook), maar in ‘n desperate poging om die waarheid van die woorde op die t-hemp van buite iewers hier binne-in my te laat vassteek. Te laat een word met my. Ai, as ek net sal onthou om te onthou: “Ask God to do what only He can do, then get out of the way and let Him do it.”

Ek leer stadig, maar ek leer darem en die een ding wat ek besig is om te leer, is dat God baie keer ten spyte van ons werk en nie as gevolg van ons nie. Genadiglik so!

Daar is ‘n staaltjie wat beweer dat Muhammad “the greatest” Ali een keer geweier het om sy gordel vas te maak op ‘n vliegtuig, selfs na verskeie versoeke. Toe die lugwaardin weer vra dat hy sy gordel vasmaak het hy blykbaar iets gesê soos “Superman don’t need no seat belt.” waarop sy toe antwoord: “Superman don’t need no airplane.”

Nou ja, ek is bevrees meeste van ons probeer een of ander tyd God speel. Ons bevind onsself in daardie gevaarlike stadium waar ons doodseker is oor ons eie vermoë. En in ‘n beswyming van false sekuriteit in onsself, pak ons dinge aan en sleep ons bagasie saam wat nie ons sin was om mee te begin nie. Net om later moeg en moedeloos bakhand te bedel vir krag van bo. Ek is mal oor die gedeelte in die War room waar Clara vir Elizabeth sê: “Let God do the heavy lifting. Your job is to seek Him and trust Him.”

Ek lees in die week hierdie woorde raak: “Hoe ontvang ’n mens die reën? Deur bloot te kyk hoe dit val, deur in die reën te gaan staan en deur vir God dankie te sê dat Hy die sluise van die hemel oopgemaak en die reën gestuur het, die reën wat Hy weet ons so nodig het en nie vir onsself kan kry nie, en wat Hy so getrou, so gereeld en so genadiglik vir ons gee.” Is dit nie waar nie?

Ons leef in ‘n tyd waar trots amper aangemoedig en beloon word. Terwyl Jesus se oeroue boodskap van nederigheid lank vergete is. Jesus het gesê dat elkeen wat homself verneder opgehef sal word.
Ek dink nie nederigheid het enigsins te make met ‘n poging om onsself of ander te oortuig ons is onbevoeg of waardeloos nie. As God ons waardeloos wou maak, sou Hy. Ek dink nederigheid is eerder ‘n tipe onderdanigheid. ‘n Gewillige, gesonde opoffering van ons selfgesentreerde uitkyk op die lewe.

Otberg vat dit so mooi vas as hy skryf: “We will know we have begun to make progress in humility when we find that we get so enabled by the Holy Spirit to live in the moment that we cease to be preoccupied with ourselves, one way or the other. When we are with others, we are truly with them, not wondering how they can be of benefit to us.”

As ons ooit die vermoë kan aanleer om nederig te wees, sal dit ‘n groot seën wees vir onsself en almal rondom ons. Eintlik is nederigheid die vryheid om op te hou voorgee ons is iets wat ons nie is nie. Om ons afhanklikheid van God te erken en ons nietigheid aan die lig van Sy Almag te besef. In Luther se woorde is nederigheid: “The decision to let God be God.”

Advertisements

Woorde uit die kombuis – Die regte pas

Ek is diè slegste back seat driver wat daar is! Daar, ek het dit erken! Mag ek darem ook net ter versagting sê dat alles in my lewe stadig gebeur. Wel, ten minste vandat ek wiele het vir bene. So wanneer my man rustig teen 80km/uur ry en ek vir hom skree om nie so te jaag nie…is dit seker te verstaande, of hoe? 80km/uur voel vir my soos 180km/uur!!

MAAR miskien is hierdie slakke-pas bestaan van my nie so ‘n slegte ding nie…dalk is dit ‘n bedekte seën. Hier in my wêreld waar gestremdheid my liggaam boei, vloei my gees vry en ontwaak my siel met woordelose boodskappe oor wie en wat ek regtig is.

Dit is mos Jesaja 30:15 wat vertel hoe ons krag in stilwees lê? Hoe ons tot rus moet kom in Hom. ‘n Baie slim man, Dallas Willard, het eenkeer gesê: “You must ruthlessly eliminate hurry from your life!”

Ek praat nie van besigwees nie, besigwees is goed, selfs nodig…ek praat van haastigheid, want dìt is ‘n ongesonde toestand van die hart.

Haastige mense hardloop altyd iewers heen en hier en nou is nooit so belangrik soos waarheen hulle oppad is nie. Hulle hardloop tot daar nie meer hardloop in hulle oor is nie. Lyk of hulle probeer opmaak vir verlore tyd, maar die een ding wat hulle begeer- GENOEG TYD – bly hulle ontwyk.

Miskien is haastigheid net ‘n rookskerm om die fluistering van ons siel te stil of die toestand van ons hart te ignoreer. As dit so is, vergiftig en bedrieg ons onsself. Erens in ‘n onbewaakte oomblik aanvaar ons ‘n oppervlakkige weergawe van ‘n bestaan. Ons LEEF nie regtig nie. G’n wonder Carl Jung het gesê: “Hurry is not of the devil; hurry is the devil.”

Jesus was self baie besig hier op aarde, maar Hy was nooit haastig nie. Hy het altyd tyd gehad vir mense. Tyd gehad om lief te hê en om te gee. Haastigheid is ‘n vyand van liefde, want liefde vat tyd.

Jesus het gereeld vir sy dissipels gesê: “Come away to a deserted place all by yourselves and rest a while.”
Dit klink vir my of Jesus ons aanmoedig: “Kom saam met My, daar’s ‘n plek waarheen ons kan gaan…Ek en jy. Ons kan praat totdat woorde opraak. Ek sal wonderlike misteries met jou deel. Geheime oopbreek en drome ontgin. Daar sal My wysheid en vreugde sag binne jou gaan lê.” Ek is bevrees as ons Jesus se uitnodiging wil aanvaar, sal ons moet asem skep. Ons sal ons plek in die vinnige baan moet opgee, want om Jesus te volg gebeur nie in ‘n rekord tyd nie. As mens iemand wil volg, kan jy tog in elk geval nie vinniger wil gaan as die een wat lei nie…

Mag die tydlose ritme van Jesus sò oor ons spoel dat ons onsself in Hom verloor.