Woorde uit die kombuis – kruis

Met paasfees nog vars in gedagte en hemelvaart om die draai, het ek gedink om hierdie poem te plaas wat ek geskryf het:

Kruis

was dit lank–

die pad na die kruis?

en die mense–

was daar baie?

 

toe stof en sweet verweef

die skare skree, die swepe slaan

wat het deur U gedagtes gegaan?

toe bloed en trane vervloei

Lewe vir dood ontmoet

was die oorwinning soet?

 

jare is reeds verby

ons het nog ‘n kans gekry

geloof gebore

hoop groei

liefde lewe

 

word U vereer

nou meer as toe?

 

ek sal onthou

van die hout, die spykers

die kroon uit dorings

my Vriend, my Koning

dat U so dood moes sterf

U kruis is lankal reeds

oor my lewe geverf!

-gerda-

Advertisements

Woorde uit die kombuis – Spore van lewe

Vreemde waarheid, maar tog die volle waarheid. Hierdie ding dat ek nog nooit in my drome in n rolstoel sit nie; dat my kinders my nog altyd met bene teken…Nou sit ek die ander dag so in my enigheid en wonder of daar enige verbintenis kan wees tussen die oe van my siel en die prente van onskuldige kinders? En of God deur hulle praat? En ek vra so stilweg vir myself met watter oe ek na myself, ander en die lewe kyk. Wereldse oe of die oe van my siel? Want die oe van die siel kyk verby rolstoele, gebreke en siekte. Verder en dieper nog. Daardie oe sien die oomblikke in die spasies van die lewe waar genade asem haal. Waar jy vergewe, gee, opreg lief kry, die ander wang draai. Jy slaak n sug van hoop, want jy sien n stukkie van wie jy wil wees, van wie jy besig is om te word.

 

Jy kan nie in hierdie lewe weghardloop van jou verlede nie, nog minder van n siekte soos MNS. Dis deel van jou, jy moet dit aanvaar vir wat dit is. Ek wil MNS die ding maak in my lewe wat my herinner om nie tyd te mors nie.

 

Ek het baie jare in n kort tydjie geleef sedert MNS. Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar van die beste dinge kom uit die swaarste tye. Dit herinner my, my ma het eendag vir my man n pot met vetplantjies gegee en op die kant het sy geskryf: “Selfs in die woestyn is dit mooi”. Dis waar! Ek het n vae vermoede dat die scenery waarin ons, ons bevind nie naastenby soveel saak maak as hoe ons na daai scenery kyk nie. Net soos wat dit wat ons doen, nie naastenby soveel saak maak as dit wie ons word nie.

 

Sekere dinge kan n mens nie ‘fix’ nie, maar ons kan dans in die reen.

 

Een van my vriende wat ook MNS het kan nie meer praat nie, maar sy hande werk nog, so wanneer hy vir my iets wil se, tik hy op sy foon vir my om te lees. Ons gesels in die week en hy tik: “I am just happy to be alive”

 

En ek besef net weer dankbaar:

 

“Death is not the greatest loss in life. Loss is when life dies inside you, while you are still alive”