Woorde uit die kombuis – Ek het jou!

Soms kyk ek na myself en hierdie wêreld waarin ek leef (‘n hindernisbaan van swaar, seer, sonde en dood) en ek WEET dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie.
Prediker 3:11 vertel hoe God elke ding in ‘n bepaalde tyd gemaak het, maar dat Hy ook binne-in die mens ‘n besef van die ewigheid gesit het.
Voel jy ook soms jou binneste verlang na meer? Kan dit wees dat die herinnering aan ‘n eens volmaakte intieme verhouding met my Vader in die dieptes van my gees versmelt is. Dat ek smag na als wat kon wees. ‘n Paradys, ‘n tuin van Eden. Ons is mos gemaak vir die ewigheid?
Dit wat stukkend is in en om my smeek vir genesing en herstel, maar ek sug innerlik oor my eie onvermoë in die regmaak en volmaak daarvan, want ek is magteloos.
Ek het ‘n Verlosser nodig. Vir gister, vandag, vir môre, vir altyd, vir alles.
Ek tel al die stukkies van my lewe op. Die goeie, slegte, die mooi en lelik. Elke wen, elke verloor. Ek lê dit op die altaar neer. Hy kan iets daarvan maak.
Ek los dit daar, ek laat dit gaan. Ek gee oor, want ek weet Hy het my. Ek forseer nie meer die proses nie, ek vertrou, want ek weet Hy het my.
Hy druk my teen Sy bors en sê: “Ek het jou”.
In Hom vind ek my waarde en identiteit. Sy bloed vloei deur my are, ek is Sy kind. In Hom maak die lewe weer sin.
Ek kies om te glo;
Hy het my, Hy hou my…

Woorde uit die kombuis – genade

Ek ken die Here se liefdestaal, Hy vra dat Sy kinders Hom sal gehoorsaam. Dis ook die begeerte van my eie hart; om daagliks meer en meer te luister en te doen wat Hy vra. Vir my eie onthalwe, want ek is moeg vir die kronkeldraaie en afdraaipaaie. Ook vir Sy onthalwe, tot eer van Sy naam.

Ek leef in ‘n wêreld waar sonde woed. Rondom my, ook binne-in my. ‘n Ewige stryd tussen goed en kwaad. Soms val ek, dan ontmoet Sy soete genade my elke keer daar. Genade wat my nie los nie, maar my optel. Wat deurskemer totdat dit my gebrokenis oorskadu. Daar kry my swaarkry en smart betekenis. Hierdie soort genade maak dat ek dankbaar kan wees vir die foute in my lewe, want dit hou my in diepe afhanklikheid. Hy is God en ek bly maar net mens.

Wanneer genade so onverdiend oor my lewe spoel, vra dit dat ek dit ook met ander sal deel. Genade kan en mag ek nie vir myself hou nie.

“Mercy is walking through the wounded world full of broken people, and watching what we thought were mistakes—those shattered little pieces of life—become beautiful mosaics in God”s hands…”

Woorde uit die kombuis – Reünie

Tyd staan nie stil nie en ons twintig jaar skool reünie is om die draai. Die opwinding loop hoog. Almal haal ou fotos en jaarboeke uit van toeka se dae. Nostalgie voer my weg na die herinneringe van daardie magiese dae. Ek onthou dit soos gister. Die netbal, atletiek en gimnastiek. Die Doedie en Dude aand en konserte. Ek was dirigent vir die rooispan en ons is met ‘n wit Volla en ‘n groot bohaai op die rugbyveld afgelaai. Ons was trots Allies in murg en been. Ek was “a jack of all trades and master of none.” Dit was goeie, sorgvrye dae. Dit was in ‘n ander lewe.

Dit gebeur nie baie met my nie, maar vandag gaan my hart op loop met al die “wat as” en “sê nou maar” vrae. Wat as ek nooit siek geword het nie?

Dis ‘n oeroue probleem by die mens. Adam en Eva het alles gehad, hulle kon in oorvloed eet van enige van die bome in die tuin, behalwe daardie EEN boom. In plaas daarvan om in dankbaarheid vanuit God se voorsiening te leef, word hulle deur daardie een ding wat hulle nie kan kry nie, in die versoeking gelei.

Paulus wou ook graag ontslae raak van die doring in sy vlees, God se antwoord aan hom was: “My genade is vir jou genoeg, My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Dis ook vandag my antwoord en jou antwoord.

Ek kan nie al die “hoekoms” beantwoord nie. Ek het ook nog nie die lewe uitgefigure nie. Maar op dae soos hierdie SAL ek nie vergeet om te onthou dat God my storie skryf nie. Hy weet wat Hy doen. Ek kan Hom vertrou. Hy het my innig lief. Ek kan ‘n lewe leef vol vreugde, vrede en liefde. Die soort wat omstandighede nie kan verander nie, want ek leef vanuit Sy hand. A.W. Tozer sê dit so mooi, “To the child of God, there is no such thing as an accident. … Accidents may indeed appear to befall him and misfortune stalk his way; but … we cannot read the secret script of God’s hidden providence …”

Die dag wat ons besef hoe nodig ons God het, is ‘n goeie dag!!

Woorde uit die kombuis – ‘n Nuwe lewe

Daar is ‘n verhaal opgeteken deur ‘n soldaat wat tydens die Tweede Wêreld Oorlog geveg het. Hy vertel hoe hy een dag gedurende die oorlog twee van sy makkers kon hoor praat, terwyl hy in ‘n loopgraaf gelê en skuil het. Een van die twee soldate was baie erg gewond en besig om te sterf. Die beseerde soldaat noem toe aan die ander soldaat dat hy bewus is van sy lewe en rowwe verlede en hoe die polisie na hom soek en hom gaan toesluit wanneer die oorlog verby is. Toe sê die beseerde soldaat iets merkwaardig, hy sê aan sy mede-soldaat om hulle identiteite om te ruil. Hy verduidelik dat hy ‘n goeie lewe gelei het en dat sy rekord skoon is en hy bied aan om sy rekord te verruil vir die ander soldaat sin. Só sal die kriminele geskiedenis saam met hom sterf en sal die skuldige soldaat van daardie dag af ‘n skoon rekord hê en oor kan begin.
Sjoe, ek sluk swaar, want ek is maar net op die randjie van begrip oor Jesus se oneindige deernis vir die mens. Is dit nie presies wat Jesus met Sy kruisdood offer nie? ‘n Nuwe begin. ‘n Weer probeer. Vir enige een. Vir elkeen. Sy genade is waaragtig elke môre nuut! Wat ‘n vriend het ons nie in Jesus?

Woorde uit die kombuis – blog vir pa

‘n Jaar is verby. Tyd het gevlieg, maar my verlange na jou bly tydloos en uitmergelend.

Soms praat jou weggaan hard in my stiltes. Herinneringe bring jou vir oomblikke terug na my. Jy is deel van my, jy sal altyd bly.
Ek hoor Werner praat van die 23 jarige wêreld kampioen body builder, Sifiso, wat ‘n back flip op stage gedoen het. Hy het gegly, op sy nek geland en twee ure later gesterf. Tragies. Onnodig. Lê berusting dan in die wete dat jou tyd, jou tyd is?
Nou en dan word ons tot stilstand gedwing. Skep ons asem. Onthou ons die lewe is kort. Te kort. Ons ewige gees is vasgevang in ‘n tydelike liggaam. Ons weet dat ons gaan sterf, maar dan vergeet ons om te lewe asof ons dit glo.

Woorde uit die kombuis – God sing

Ek het laas week die voorreg gehad om my dogter se kooropvoering te gaan kyk. Sy is van kleins af baie lief vir musiek. Hierdie omgee kind se stem bekoor daagliks my hart soos haar liedjies deur ons huis se gange weergalm. Ek weet nie hoe klink die stem van ‘n engel nie, maar ek veronderstel dit moet klink soos die klanke wat uit Charne vloei.
Terwyl ek na die koor sit en luister word my gedagtes weggelei na my vriendin Debbie se vraag van die ander dag: “Het jy geweet dat God oor ons sing?” Ek en sy het lank vasgehaak by DIE indrukwekkende gedagte en gewonder hoe intens God se gevoel vir die mens moet wees as Hy oor ons sing? Ek moet bieg, God se groot liefde oorweldig my steeds elke keer as ek net aan ons gesprek dink.
Kyk bietjie wat staan in Sefanja 3:17 “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (1983 vertaling) Die Bybel vir almal stel dit so: “Julle God die Here is by julle. Hy is die groot soldaat wat julle red. Hy is bly en Hy juig oor julle. Hy is lief vir julle en Hy sing oor julle.”
Lees hierdie vers weer stadig. Hoor jy dit? Glo jy dit? Die Here is by JOU. Hy is vol vreugde en stil-tevrede in Sy liefde vir JOU. Hy sing oor JOU!
Retief Burger sing oor God se liefdes lied in sy liedjie Sekelmaan – “Vanaand se sekelmaan is net vir jou, mag hy dans tot in jou hart en sy arms om jou vou.” Sjoe, is dit nie mooi nie?
Nog ‘n sangeres, Karen Zoid sing in een van haar liedjies oor haar hoop dat haar seun altyd sal kan saam sing as die musiek begin speel en in een van my gunstelinge sing Riana Nel “Ek hoef nie te sien om te glo, want U lig my tot bo op U skouers…U dra my siekte, my swaarkry my gebrokenis op U skouers”

Oral om ons verwoord sangers hulle gevoelens in liedjies en gryp hulle ons harte aan. Maar dat die Skepper oor Sy skepsel sing, maak kragtige emosies in my los, laat my in verwondering neerbuig voor die karakter van ‘n heilige en almagtige God.
In n intieme ontsag wil ek ook ietsie sing in antwoord op die Heer.
Miskien het jy vandag ‘n hartseer liedjie, wat jy sommer net woordeloos binne-in jou sing. Dalk het jy ‘n lied van dankbaarheid, wat jy nederig sag in jou kar wil sing of dalk wil jy uit volle bors prys en aanbid.

Dit maak nie saak watter liedjie op jou hart is nie. Wat saak maak is of jy God roekeloos sal vertrou met jou hartslied. Hy is n God wat luister, ‘n God wat verstaan.
Vandag wil ek Urban Rescue se liedjie “Song of my Father” sing as viering dat ons Heer oor ons sing!!

SONG OF MY FATHER
When silence falls
I hear You call
In a secret place

You still my soul with quiet joy

And I’m wide awake

In the middle of the night
I look up to the sky
I can hear You
Singing over me
Through the fire and the flood
I know that I am loved
I can hear You
Singing over me

You spoke the earth with just one word
And You hold my heart
My every step, my every breath
Is Your work of art

In the middle of the night
I look up to the sky
I can hear You
Singing over me
Through the fire and the flood
I know that I am loved
I can hear You
Singing over me

I hear Your melody
I hear Your symphony
There’s nothing louder than the song of my Father
I hear Your melody
I hear Your symphony
There’s nothing louder than the song of my Father

Woorde uit die kombuis – Diensbaarheid

Die lydenstyd het begin en die laaste paar dae draai die herinneringe van die kruis, die spykers en die doringkroon weer vlak in elke dissipel se gemoed rond, maar dis veral Jesus se voorbeeld van diensbaarheid wat deesdae so hard met my praat. Ek sien weer opnuut die draaitjie daarvan regdeur Sy lewe en dood gevleg.
Daardie spykers het Jesus se verweerde hande en voete vasgeslaan aan ‘n kruis, ‘n kruis wat Hy nie verdien het nie, om ‘n dood te sterf wat nie eers Syne was nie. Maar Jesus het mos self gesê dat daar nie ‘n groter liefde as juis dit is nie – dat iemand sy lewe opoffer vir ‘n ander.
En deur dit alles het Sy liefdevolle oë pretensie verbrokkel en die waarheid gesif, terwyl sy droë mond prewel in ‘n versoek tot God om ons nie hierdie sonde toe te reken nie, want ons weet nie wat ons doen nie.
Dan was daar die spottende doringkroon. Eintlik het daardie kroon elke ander idee van koningskap weggevreet en verteer, sodat ons kan neerbuig voor die Een Koning wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien.

Ek lees iewers hierdie woorde: “We surrender to win, we give away to keep, we suffer to get well, we die to live.” En ek dink net weer tevrede – in God se Koninkryk werk alles andersom.

Suutjies stoei daar ‘n dringendheid in my los om self te gaan dien…

-gerda-

Woorde uit die kombuis – Laat God God wees

‘n Spesiale vriendin bring die ander dag vir my ‘n t-hemp. Dis die soort t-hemp wat ek wil aantrek en aan hou. Vir ewig. Nie omdat die t-hemp so gemaklik is nie (dit ook), maar in ‘n desperate poging om die waarheid van die woorde op die t-hemp van buite iewers hier binne-in my te laat vassteek. Te laat een word met my. Ai, as ek net sal onthou om te onthou: “Ask God to do what only He can do, then get out of the way and let Him do it.”

Ek leer stadig, maar ek leer darem en die een ding wat ek besig is om te leer, is dat God baie keer ten spyte van ons werk en nie as gevolg van ons nie. Genadiglik so!

Daar is ‘n staaltjie wat beweer dat Muhammad “the greatest” Ali een keer geweier het om sy gordel vas te maak op ‘n vliegtuig, selfs na verskeie versoeke. Toe die lugwaardin weer vra dat hy sy gordel vasmaak het hy blykbaar iets gesê soos “Superman don’t need no seat belt.” waarop sy toe antwoord: “Superman don’t need no airplane.”

Nou ja, ek is bevrees meeste van ons probeer een of ander tyd God speel. Ons bevind onsself in daardie gevaarlike stadium waar ons doodseker is oor ons eie vermoë. En in ‘n beswyming van false sekuriteit in onsself, pak ons dinge aan en sleep ons bagasie saam wat nie ons sin was om mee te begin nie. Net om later moeg en moedeloos bakhand te bedel vir krag van bo. Ek is mal oor die gedeelte in die War room waar Clara vir Elizabeth sê: “Let God do the heavy lifting. Your job is to seek Him and trust Him.”

Ek lees in die week hierdie woorde raak: “Hoe ontvang ’n mens die reën? Deur bloot te kyk hoe dit val, deur in die reën te gaan staan en deur vir God dankie te sê dat Hy die sluise van die hemel oopgemaak en die reën gestuur het, die reën wat Hy weet ons so nodig het en nie vir onsself kan kry nie, en wat Hy so getrou, so gereeld en so genadiglik vir ons gee.” Is dit nie waar nie?

Ons leef in ‘n tyd waar trots amper aangemoedig en beloon word. Terwyl Jesus se oeroue boodskap van nederigheid lank vergete is. Jesus het gesê dat elkeen wat homself verneder opgehef sal word.
Ek dink nie nederigheid het enigsins te make met ‘n poging om onsself of ander te oortuig ons is onbevoeg of waardeloos nie. As God ons waardeloos wou maak, sou Hy. Ek dink nederigheid is eerder ‘n tipe onderdanigheid. ‘n Gewillige, gesonde opoffering van ons selfgesentreerde uitkyk op die lewe.

Otberg vat dit so mooi vas as hy skryf: “We will know we have begun to make progress in humility when we find that we get so enabled by the Holy Spirit to live in the moment that we cease to be preoccupied with ourselves, one way or the other. When we are with others, we are truly with them, not wondering how they can be of benefit to us.”

As ons ooit die vermoë kan aanleer om nederig te wees, sal dit ‘n groot seën wees vir onsself en almal rondom ons. Eintlik is nederigheid die vryheid om op te hou voorgee ons is iets wat ons nie is nie. Om ons afhanklikheid van God te erken en ons nietigheid aan die lig van Sy Almag te besef. In Luther se woorde is nederigheid: “The decision to let God be God.”

Woorde uit die kombuis – Die regte pas

Ek is diè slegste back seat driver wat daar is! Daar, ek het dit erken! Mag ek darem ook net ter versagting sê dat alles in my lewe stadig gebeur. Wel, ten minste vandat ek wiele het vir bene. So wanneer my man rustig teen 80km/uur ry en ek vir hom skree om nie so te jaag nie…is dit seker te verstaande, of hoe? 80km/uur voel vir my soos 180km/uur!!

MAAR miskien is hierdie slakke-pas bestaan van my nie so ‘n slegte ding nie…dalk is dit ‘n bedekte seën. Hier in my wêreld waar gestremdheid my liggaam boei, vloei my gees vry en ontwaak my siel met woordelose boodskappe oor wie en wat ek regtig is.

Dit is mos Jesaja 30:15 wat vertel hoe ons krag in stilwees lê? Hoe ons tot rus moet kom in Hom. ‘n Baie slim man, Dallas Willard, het eenkeer gesê: “You must ruthlessly eliminate hurry from your life!”

Ek praat nie van besigwees nie, besigwees is goed, selfs nodig…ek praat van haastigheid, want dìt is ‘n ongesonde toestand van die hart.

Haastige mense hardloop altyd iewers heen en hier en nou is nooit so belangrik soos waarheen hulle oppad is nie. Hulle hardloop tot daar nie meer hardloop in hulle oor is nie. Lyk of hulle probeer opmaak vir verlore tyd, maar die een ding wat hulle begeer- GENOEG TYD – bly hulle ontwyk.

Miskien is haastigheid net ‘n rookskerm om die fluistering van ons siel te stil of die toestand van ons hart te ignoreer. As dit so is, vergiftig en bedrieg ons onsself. Erens in ‘n onbewaakte oomblik aanvaar ons ‘n oppervlakkige weergawe van ‘n bestaan. Ons LEEF nie regtig nie. G’n wonder Carl Jung het gesê: “Hurry is not of the devil; hurry is the devil.”

Jesus was self baie besig hier op aarde, maar Hy was nooit haastig nie. Hy het altyd tyd gehad vir mense. Tyd gehad om lief te hê en om te gee. Haastigheid is ‘n vyand van liefde, want liefde vat tyd.

Jesus het gereeld vir sy dissipels gesê: “Come away to a deserted place all by yourselves and rest a while.”
Dit klink vir my of Jesus ons aanmoedig: “Kom saam met My, daar’s ‘n plek waarheen ons kan gaan…Ek en jy. Ons kan praat totdat woorde opraak. Ek sal wonderlike misteries met jou deel. Geheime oopbreek en drome ontgin. Daar sal My wysheid en vreugde sag binne jou gaan lê.” Ek is bevrees as ons Jesus se uitnodiging wil aanvaar, sal ons moet asem skep. Ons sal ons plek in die vinnige baan moet opgee, want om Jesus te volg gebeur nie in ‘n rekord tyd nie. As mens iemand wil volg, kan jy tog in elk geval nie vinniger wil gaan as die een wat lei nie…

Mag die tydlose ritme van Jesus sò oor ons spoel dat ons onsself in Hom verloor.

Woorde uit die kombuis – My Pa

Ai my pa, ek was so bitter klein toe ek begin bid het vir n pa en as kind was die gewag lank. As ek nou so sit en terug dink besef ek die Liewe Heer het elke gebed verhoor en op Sy perfekte tyd het Hy vir my, my eie pa gestuur.

Pappa was alles waarvoor ek gebid het. Nee, Pappa was meer!! Vir 28 jaar was pappa vir my geleen. Hoe vinnig gaan 28 jaar verby? En nou is ons hier… Ek gaan nie groet nie, ek kan nie. Elke dag van hier af vorentoe gaan ek pappa se lewe en invloed vier. Tot ons mekaar weer sien. En pappa se invloed le wyd oor my lewe gestrooi. Tog ook diep binne my hart gebere. Verweef in soveel oomblikke saam. Daar was lag en trane, pyn en vreugde soos wat seisoene verander; pappa was altyd daar.

Ek koester die herinnering in die geure van basil & tamatie, gebraaide vark met appelsous. Pappa se lip-lekker potjies of sommer net pap & wors. Die reuk van gesnyde gras, die knetter van n harde hout vuur, n goeie botteltjie rooiwyn. Elke rugby game, krieket toets en golfbaan. Boeremusiek en pappa wat nostalgies praat oor dinge voor my tyd. En dan altyd die stories op die radio skuins voor drie. Soveel lang, goeie gesprekke propvol quotes en raad.

Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar soos ek ouer word proe ek ook die liefde in die kos en die suurstof in n vars gemaakte koppie koffie..

Dankie weeg so lig en voel so onvoldoende… Dankie in elk geval..vir soveel dinge. Vir pappa se voorbeeld en opoffering. Pappa se geselsies en ondersteuning. Al die lewenslesse. Vir pappa se liefde vir ons kinders en later die kleinkinders, maar veral vir pappa se onwrikbare liefde vir mamma. Pappa was real…n opregte mense – een sonder voorgee! Dit was n voorreg!

Ek sal onthou om so te leef dat ek tevrede kan wees met die een wat na my terug staar in die spieel. En dat pappa gese het… Meeste van die tyd is die lewe vol moeilike vrae, maar as ons eers die moeilike vrae gevra het, is die antwoorde gewoontlik maklik.

Ek gaan verlang, ek verlang al klaar. Ek soek pappa in oomblikke, spasies, gapings en krake. In die klein dingetjies wat net pappa sou verstaan.

Ek het pappa so lief!
Stuur groete daar bo.

Ps: ek sal nou maar hier en daar vir die WP cheer!